Tuesday 6 August 2019

Vlaeskywe in Mikrogolf


Lekker maklike en vinnige resep om te maak.

VLASKYWE
(Mikrogolf Wenners – Annette Human)


1 pak (200g) kraakbeskuitjies (Cream Crackers)
1 Liter Melk
200g (250ml) Witsuiker
50g (60ml) Botter of marg.
70g (125ml) Koekmeelblom


50g (100ml) Mielieblom (Maizena)
12,5ml Vlapoeier
2ml Sout
125ml Koue water
3 Eiers
5ml Vanieljegeursel
250g (475ml) Versiersuiker
25ml Kookwater
10ml Suurlemoensap


Pak die beskuitjies in rye van drie op die boom van ‘n vlak, reghoekige bak van 30 x 23cm en sorg dat al die halveringslyne van die beskuitjies in dieselfde rigting lê.
Mikrogolf die melk, witsuiker en botter of marg. Ongeveer 10 minute oop in ‘n diep 2 liter bak by 100% krag tot kookpunt en roer dit af en toe om die suikerkorrels makliker te laat smelt.
Meng die koekmeelblom, mielieblom, vlapoeier en sout in ‘n middelslag mengbak. Klits die koue water en eiers saam en maak die meelmengsel daarmee aan. Klits ‘n bietjie van die kookmelkmengsel by die meelmengsel en klits die meelmengsel dan by die res van die kookmelkmengsel.
Mikrogolf die vulsel 7 minute oop by 70% krag en klop dit elke 1½ minuut goed met ‘n draadklitser. Roer die vanieljegeursel by.
Skep die vulsel op die beskuitjies in die bak en maak gelyk. Bedek dit met ‘n laag kraakbeskuitjies wat presies soos die onderste laag gepak is. Laat dit ‘n rukkie by kamertemperatuur afkoel en verkoel dit dan verder in die koelkas.
Sif die versiersuiker en maak dit met die kookwater en suurlemoensap aan. Bedek die boonste beskuitjies daarmee. Plaas dit weer in die koelkas om styf te word.
Sny net voor opdiening die vlaskywe in blokkies so groot soos halwe kraakbeskuitjies




No comments:

Post a Comment