Tuesday 8 May 2018

Springbokboud in die Oond



My buurvrou Martha het hierdie heerlike wildsboud vir ons gemaak.  Skoon vergeet om 'n foto te neem.

Springbokboud in die Oond

1 x springbokboud
500ml karringmelk
10 blokkies varkspek
10 heel knoffeltoontjies, afgedop
2 uie, in dik skywe gesny
250ml Old Brown Sherry (of enige soetwyn)
1 tl vars gemaalde swartpeper
1 tl fyn gemmer
1 el bruinsuiker
250ml blatjang
60ml worcestersous
sout na smaak
3 el botter
80 ml olie

Maak met 'n skerp mes gaatjies in die boud en druk in elke gaatjie 'n knoffeltoontjie.  Sit die boud in 'n groot glad plastieksak en giet die karringmelk oor.  Druk soveel as moontlik lug uit die sak en seël.  Sit in die yskas en laat mariner vir 2 dae (ons het net oornag).  Skommel en draai die sak elke nou en dan.

Voorverhit die oond to 140C. 

Haal die boud uit die marinade, spoel af onder lopende koue water en druk die vleis droog.  Druk nou 'n blokkie spek in die gaatjies van die knoffeltoontjies.

Gebruik 'n oondvaste bak (met 'n deksel).  Rangskik die uieringe onder in die oondbak.  Plaas die boud bo-op uie.  Meng die sherry, olie, blatjang, worcestersous, gemmer, bruinsuiker, sout en peper.  Giet oor boud.  Stip met 'n paar klontjies botter bo-op.  Plaas deksel op en bak stadig vir 5 ure tot die vleis sal is.  Verhoog die temperatuur tot 180C.  Haal deksel af en bak oop tot goudbruin, bedruip tussendeur met pansouse.

Laat die boud vir 10 min rus in oondbak voor jy dit sny.

Heerlik, heerlik, jy gaan jou lippe aflek.

No comments:

Post a Comment