Wednesday 15 July 2020

Broodpoeding



As die lus vir broodpoeding jou pak dan soek jy onder jou vriendinne 'n resep.   Natuurlik moet daar korrente in en dit moet die eierwitte bo-op hê, net soos my ma dit gemaak het.

Broodpoeding
2 koppies witbroodkrummels sonder korsies
3 koppies warm melk
4 eiers
1.5 koppie witsuiker

4 eetlepels, botter gesmelt
halwe teelepel sout
1 teelepel vanieljegeursel
halwe teelepel fyn gemengde speserye

Voorverhit die oond tot 160C.
Week die broodkrummels in melk en laat afkoel.
Klits die eiers en suiker saam en voeg die oorblywende bestanddele daarby.
Voeg dit by die melkmengsel, meng goed saam en giet in 'n gesmeerde oondbak.
Bak 1 uur lank of tot gestol.
Sit warm voor met 'n konfytstroop of 'n poedingsous

Wenk:
Plaas van broodkrummels en gesmelte botter, gebruik snye witbrood sonder korsies.  Smeer die snye met botter en appelkooskonfyt, plaas op mekaar en sny in kwarte.  Plaas in 'n gesmeerde oondpan, giet die eier-en-melk-mengsel bo-oor en bak soos bo beskryf.

Variasies:
Korrente-broodpoeding:  Skei die iers en voeg die eirgele en 1 koppie korrente by melkmengsel.  Klits die eierwitte met 3 - 4 eetlepels ekstra suiker styf en skep dit bo-op die poeding nadat dit 'n halfuur gebak het.  Bak to die meringue ligbruik is.
Karamel-broodpoeding:  Gebruik 3/4 koppie suiker, karamaliseer die suiker in 'n pan en los dit in die melk op voordat dit by die krummels gevoeg word.
Koffie-broodpoeding:  Kook melk saam met 4 eetlepels gemaalde koffie en syg deur.
Marmelade-broodpoeding:  Voeg 1 koppie marmelade by die mengsel.  Verminder die suiker na smaak.
Sjokolade-broodpoeding:  Meng 2 eetlepels ekstra suiker met 1 - 2 eetlepels kakao en roer dit by die warm melk in voordat die krummels daarin geweek word.
Broodpoeding met dadels en neute:  Voeg 1 koppie gekapte dadels en halwe koppie gekapte okkerneute of pekanneute by die mengsel.
Koekkrummelpoeding:  Vervang broodkrummels deels of heeltemal deur koekkrummels.  Verminder die suiker na smaak.
Piesangkoekpoeding:  Maak dit soos die koekkrummelpoeding hierbo.  Gebruik 2 koppies ou koekkrummels, 1 koppie fyngedrukte piesang, 1 eetlepel suurlemoensal en 1 teelepel vanieljegeursel.
Dadelkoekpoeding:  Maak dit soos die koekkrummelpoeding hierbo, maar laat die suiker heeltemal weg en roer 1 koppie ontpitte gekapte dadels by.




No comments:

Post a Comment