Wednesday 24 June 2015

Christa se Gestolde Wortelvorm



Christa se Gestolde Wortelslaai
Berei die slaai die aand voor die tyd, almal gaan jou vra vir die resep

Bestandele:
1 blik (440g) fyngemaakte pynappel
1 pakkie (80g) suurlemoenjelliepoeier
100g (125ml) witsuiker
1ml Sout
200g (500ml) fyn gerasperde, geskilde Geelwortels
125ml Room
Geelwortelrepies, pynappelstukkies en pietersielie vir garnering

Metode:

Dreineer die pynappel en vul die sap met water aan tot 250ml.  Verhit dit tot kookpunt en los die jelliepoeier daarin op.  Laat dit afkoel tot dik, maar nie styf gestol nie.

Klits die dik jellie tot romerig.  Klits die suiker bietjiesgewys by en dan die sout.  Meng die pynappel en wortels en vou dit liggies by die jellie in.  Klits die room tot styf en vou dit ook by die mengsel in.

Spoel ‘n middelslag-slaaivorm met koue water uit.  Gooi die slaaimengsel daarin en plaas dit in die koelkas om te stol.



Om te ontvorm:  Druk die rand van die slaai versitig van die vorm los.  Hou die vorm ‘n paar tellings in warm water.  Plaas ‘n slaaibord oor die vorm en keer dit dan om sodat die slaai op die bord kan uitgly.  As dit steeds aan die vorm vaskleef, hou dit onderstebo en druk die rand liewer versigtig met die vingers sodat daar lug tussen die slaai en die vorm kan kom.

Garneer die slaai soos verkies.  Hou dit in die koelkas tot net voor opdiening.



 

No comments:

Post a Comment